Bly uitkyk op hierdie bladsy vir gedagtes wat ek op 'n gereelde basis sal opdateer. Ek skryf vir 'n tydskrif, "Today's Child" artikels. Hier is 'n paar woorde oor verhoudings. 

“Hoe gaan dit?” is die verkeerde vraag!

Wat verhoudings laat werk

In die vorige uitgawe van Today’s Child het ek kortliks van die navorsingsresultate van John Gottman gedeel. In kort kom dit op die volgende neer:
• Die sukses van verhoudings lê nie in spesifieke verhoudingstyle nie; maar eerder
• in die vermoë om ʼn 5:1 verhouding te hê van positiewe tot negatiewe interaksies of tye saam.

Wat verhoudings kelder
Daar is wel vier belangrike kenmerkende afbrekende style wat baie negatief inwerk op verhoudings:
• Afbrekende kritiek.
• Afkraak van karakter.
• Selfverontskuldiging/onwilligheid om medeverantwoordelikheid vir die verhouding te neem.
• Geslotenheid (“stonewalling”).

Nege voorstelle wat verhoudings versterk
In hierdie uitgawe deel ek Gottman se voorstelle van hoe om ʼn verhouding op te bou sodat dit vyf keer meer goeie tye bevat as negatiewe tye. Dit is nie voorstelle wat Gottman uitgedink het nie. Dit is positiewe gewoontes wat waargeneem is by minstens 700 werklike paartjies. Neem gerus hierdie voorstelle en begin self daaraan werk. Maak ʼn punt daarvan om elke dag minstens een van hierdie positiewe gewoontes deel van jou lewe te maak.
Wys jy stel belang. Wees geïnteresseerd in wat jou lewensmaat sê. Maak goeie oogkontak. Sit neer waarmee jy besig was. Min dinge laat iemand so belangrik en geliefd voel as wanneer hulle bo ʼn selfoon, televisie of rekenaar gestel word.
Wys jou gevoelens. Daar is baie klein dingetjies wat jy kan doen. Gottman noem dit “quiet acts of tenderness”. Hou hande vas. Raak aan mekaar. Woorde is soms oorbodig, dade sê soveel meer (Nou goed, woordjies vir vroue is altyd ʼn bonus!).
Wys jy gee om. Wees bedagsaam op wat vir die ander persoon belangrik is. Stuur ʼn sms gedurende die dag. Maak ʼn verrassingsoproep. Stop by die kafee vir melk. Gooi die vullis uit voordat sy vra. Skryf ʼn briefie en laat dit waar die ander een dit sal kry.
Wees waarderend. Navorsing sê ons moet nege komplimente gee vir elke keer as ons kritiek uitdeel. Ons is geneig om dit andersom te doen, is dit nie? So, sê meer dikwels dankie. In plaas van om te konsentreer op wat die ander persoon verkeerd doen of nie gedoen het nie, dink aan hoéveel hulle wel doen en reg doen. Spreek gereeld waardering en dankbaarheid uit.
Deel bekommernisse. As die ander persoon ongelukkig is by die werk, of oor ʼn vriendskap wat deur ʼn moeilike tyd gaan – neem dit ernstig op. Wees ondersteunend. Wys dat jy dít wat hulle ontstel ernstig opneem.
Wees empaties. Om aan jou lewensmaat emosionele resonansie te toon is een van die kragtigste maniere van liefde bewys. Soms behels dit net instemming, ʼn knik van die kop wat sê jy verstaan. ʼn Drukkie om die lyf is altyd ʼn goeie pleister!
Wees aanvaardend. Selfs al stem jy nie saam met jou maat se mening nie, kan jy hulle gevoelens en menings valideer en respekteer. Herhaal wat hulle gesê het, of voeg iets by soos: “Uit jou perspektief maak dit sin dat jy so voel”.
Hê pret saam. Dit is belangrik om soms sommer laf te wees, speels met mekaar, of om sommer net pret te hê. Maar onthou, ʼn grap is net ʼn grap as almal saam kan lag! Om saam te lag is goed vir liggaam, siel en gees. Dit is ook ʼn bevestiging van intimiteit en eksklusiwiteit.
Deel julle vreugdes. Laat jou lewensmaat jou vreugdes deel en die dinge wat jou opgewonde maak! Deel ook in dinge wat hulle gelukkig maak, en doen moeite om mekaar se vreugdes ʼn werklikheid te maak.

“Wat doen jy?” in plaas van “Hoe gaan dit?”
In my praktyk groet ek nooit verhoudingspare by die deur met “Hoe gaan dit?” nie. Want dit “gaan” nie maar net op ʼn bepaalde manier in verhoudings nie. Ek bepaal hoe dit gaan. Ons bepaal hoe dit gaan. Daarom stel ek eerder belang in elkeen se bydrae: “Wat ek hierdie week gedoen het om ons verhouding beter te maak/aan ons verhouding te werk is...”. So, tot volgende keer: “Wat gaan jy doen?”.

'n Gebed vir 2011 (Uit die "Groot Gebedeboek" van Lux Verbi)
Here God, ek het vanmôre vreugde aan die lewe; ek dank U vir hierdie nuwe dag. Ek gooi my vreugde in die lug op - soos voëls, want die nag het weggefladder, en ek verheug my oor die lig. U son het die dou weggebrand van die gras en die donker uit my hart verdryf. Daarom is die woorde wat vanoggend uit my mond kom, net vreugde en dank. Here, ek is vanmôre vrolik. Die voëls en die engele sing, en ek sing ook. Die heelal staan bakhand vir u genade, en my hart ook. Die son skyn op my lyf en ek dank U daarvoor. Die branders breek op die strand, dankie daarvoor. Here, ek verlustig my in u skepping, want U is daarin en daarbo en daaragter, en ook in my. Ek is gelukkig, Here, bly, bly, vol van blydskap. Here, ek gooi my vreugde soos voëls in die lug op. ʼn Nuwe dag gaan singend oop; tjirp en kwetter van u liefde. U genade skitter in elke uur. Halleluja, Here!

Pitkosgroete, Thinus. Skryf gerus aan my by wysmydieson@gmail.com.


 




 

 

Kort gedagtes

  • Vryheid

  • My kneukels wit om tralies van die tronk, 
    my oë soek ver vooruit na die vryheid. 
    Sal ek ooit daar wees as die trein vertrek
    of het die stoom die tyd gesmelt?

  • Ek weet dat daar `n more is

  • Ek weet dat daar `n more is,
    al sou ek dit nie sien nie.
    Ek weet dat strome water vloei,
    al sou woestyne dit oordek.
    Ek weet `n hart sal heel word,
    al sou dit nou in stiltes stik.
    En al sou ek ook my oë moes sluit,
    vir die waters wat my bang maak,
    dan sou ek nog my hand kon hou,
    vir die Een wat my behou.